Hallo daar! Bly om jou welkom te heet by ons webtuiste. Hoop jy geniet dit en dat jy kry wat jy gesoek het en nie gesoek het nie. Veral die geestelike boodskappe en kuierhoekies is baie positief.
Ons gemeente het sy 50ste verjaarsdag in 2007 gevier. Ons het nog die tradisionele kerkgebou en liturgiese ruimte, maar tegnologies is ons nie gestremd nie en presteer ons goed met 'n goeie klankstelsel, oorhoofse projektor, DVD - speler, klankbord, ens.
Die gemiddelde ouderdom van die gemeente is ± 39.5 jaar met 23 lidmate wat 80+ is, 4 wat 90+ is, met die grootste gros wat tussen 19 en 45 jaar oud is.
Wat veral lekker is, is dat elke ouderdomsgroep het hulle spesiale bedieningsgeleentheid. Bv.die afgetredenes kom elke 2de week bymekaar en dan kuier hulle, besoek interessante plekke en mense, reik uit na mekaar en veral na die oues wat nie meer kan rondbeweeg nie en gaan hou een keer per jaar vakansie by Weesgerus. Die jonges weer gaan Kinderkerk (vir Graad 2 - 7) toe in die saal en Tjommiekerk (vir die kleuters) in die Kerkhuis. Hulle JOL (Jesus Ons Liefde) ook saam Sondaemiddae.
Ons gemeente is in 'n voorstedelike area, maar ons lidmate kom maar van oral oor. Hier is pragtige winkelsentrums, woonstelblokke, meenthuiskomplekse, skole (hoërskole en laerskole, Afrikaans en Engels). Ons bly in 'n lekker dorp met goeie mense as jy hulle eers leer ken.
Reik ons uit na buite? Ja, natuurlik! Behalwe vir die 8 sendelinge wat ons ondersteun, is ons plaaslik betrokke by die Ebenezer-gemeente in McKenzie Park wat uitreik na die Indiër-, bruin - en swartwoonstelblokke en plakkerskampe. Ons is ook finansiëel betrokke by die "Rape & Crisis Centre" in die dorp.
Ons gemeente funksioneer hoofsaaklik op die kleingroepbediening, maar het ook nog die tradisionele wyke.
Kuier gerus lekker rond of kontak ons indien jy meer vrae het.
Jy is baie welkom om Sondae-oggende om 09h00 saam met ons die Here te kom aanbid.
Groetnis

