Algemene omgeegroep inligting
Samestelling en ontstaan van omgeegroepe
Elke omgeegroep se ontstaan en samestelling is anders en uniek van die ander in ons gemeente. Sommige omgeegroepe kom van die begin af saam, ander het as gevolg van verdeling ontstaan, en ander het weer spontaan ontstaan omdat die betrokke lede ’n behoefte gehad het aan ’n omgeegroep.
As gevolg die grootte van ons huise, is dit prakties dat omgeegroepe uit nie meer as twaalf volwassenes (± 6 gesinne) bestaan. Dit is ook makliker om te assosieer en deel te voel van die groep, anders kan mens geïsoleerd raak. Indien groepe groter word, word voorgestel dat omgeegroepe verdeel in twee kleiner groepe wat weer op hul eie nuwe lede kan intrek en akkommodeer.
Wat doen ons by omgeegroepe?
Die fokus van omgeegroepe is juis dit wat die naam sê: omgee. Deur die week en op die aande of middae waarop ons bymekaar kom verneem ons na mekaar se welstand en bid vir mekaar. Ander elemente van die byeenkoms is o.a. voorlees van die Gesinsverklaring, lofprysing – en aanbiddingsang, leringsgeleentheid vir die kinders, ’n geestelike bespreking (’n reeks of spesifieke onderwerp) en die byhou van ’n voorbiddingslys.
Omdat elke groep uniek is, word die elemente gebruik en ingeruim soos wat dit die groep pas. Daar kan selfs elemente bygevoeg of weggelaat word volgens die groep se behoefte.
Hoe word ek deel van ’n omgeegroep?
- Begin met gebed. Vra die Here opreg om jou te lei om by ’n groep in te skakel. Elke groep bid ook gereeld vir nuwe lede wat by hulle kan aansluit, of vir die stigting van nuwe groepe.
- Kontak die groepleiers. Vind uit oor sy/haar groep, en kyk of jy aanklank vind by die groep. Vra die groepleier of jy die groep kan besoek om te sien hoe hulle funksioneer en of hulle spiritualiteit dit is waarna jy en jou gesin opsoek is.
- Begin jou eie groep. Miskien dra die Here jou dit op die hart om self ’n groep te stig. Daar is baie hulpmiddels in die gemeente om jou en jou groeplede by te staan om ’n groeiende omgeegroep te word.

